Hoekom is selfvertroue so belangrik?

Geskryf deur: Lana Fourie

Hoekom is selfvertroue belangrik om te bou?

Selfvertroue vorm die basis van amper alle fasette van jou lewe. Sonder goeie selfvertroue twyfel jy heeltyd in jouself, jy is baie meer krities op jouself en jy kan selfs wonder of jy ooit goed genoeg is. Wanneer jy heeltyd twyfel sukkel jy ook om aksie te neem. Dalk wonder jy of mense ooit van jou hou? Almal twyfel soms, maar probeer selfvertroue bou wanneer jy heeltyd twyfel.

Statistiek het al bewys dat mense aangetrokke is tot ander mense met goeie selfvertroue asook dat mense met goeie selfvertroue oor die algemeen gelukkiger is in die lewe.

Selfvertroue vs Selfbeeld

Selfbeeld definieer nie noodwendig selfvertroue nie, maar dit sluit wel bymekaar aan. Jy kan nie jou selfvertroue op jou uiterlike bou nie. Wat sal gebeur wanneer jy ouer word en jou jeug vergaan? Gaan jy dan jou selfvertroue verloor? Jou selfvertroue kan dus nie net bestaan uit hoe jy lyk nie. Aan die ander kant is daar selfs supermodelle wat ook sukkel met selfvertroue.

Selfvertroue het meer te doen met of jy in jouself en jou vermoëns as mens glo. Vertrou jy jouself om jou eie besluite te maak? Een van die beskrywings wat ek gewoonlik gebruik is om 'n gesonde gebalanseerde siening van jouself en jou vermoëns te hê. Jy moet kan eerlik wees met jouself en jouself regtig leer ken. Wanneer jy jou sterk- en swak eienskappe ken, dan weet jy wat jy goed kan doen en wat nie. Almal is nie goed in alles nie.

Eintlik kan ek baie sê oor selfvertroue en dit sal ook verskillende areas van jou lewe behels. Dalk het jy selfvertroue in jou werk, maar minder selfvertroue tussen jou vriende. Vertrou jy jouself om net jouself te kan wees, of leef jy heeltyd volgens ander mense se verwagtings want jy is bang niemand aanvaar jou vir wie jy is nie? Is jy afhanklik van ander mense se opinies?

Selfaanvaarding sal ook help om jou selfvertroue te bou. Niemand hou van alles van hulleself nie, maar mense met gesonde selfvertroue aanvaar hulle minder goeie einskappe en fokus eerder op hul sterk punte. Hulle is meer tevrede met hulleself.

Selfsorg

Mense met lae selfvertroue is geneig om hulleself af te skeep.

Om aan jouself aandag te gee is nie selfsugtig nie. Ons moet leer wat die verskil is tussen selfsug en selfsorg. Jy het ook nodig om jou emmertjie vol te kry voordat jy weer iets het om uit te deel.

Vroue veral is geneig om heeltyd vir almal om hulle reg te staan en dan sleg te voel wanneer hulle vir hulleself tyd inruim. Onthou, jy kan slegs uitdeel wat jy het. Indien jy geen energie oorhet nie, hoe gaan jy dit kan gebruik om goed te doen aan die mense om jou?

Vroue kan ook dink hulle moet die heeltyd "nice" wees en sommige sukkel selfs om nee te sê vir mense, anders voel hulle dat hulle nie meer "nice" is nie. Wel, jy kan "nice" wees en steeds na jouself kyk en ook grense stel.

Jy kan hierdie gratis beplanner aflaai wat jou kan help met beplanning om beter na jouself te kyk.


Selfvertroue neem tyd en dit is nie altyd konstant nie. Niemand is die heeltyd vol selfvertroue nie, al lyk dit vir jou so. In ons gemaksones is dit makliker om vol selfvertroue te wees as wanneer ons uitgedaag word in 'n ongewone situasie.

Mag jy gesonde selfvertroue bou sodat wanneer jy uit jou gemaksone is, jy sal weet dat jy dit sal kan hanteer. Mag jy minder twyfel in jouself, want jy is dit werd!